Rugby

Rugby was nog altyd deel van die etos en gees van Helpmekaar. Die sukses van die rugby maak dat die skool vandag nog wyd bekend is by mense dwarsoor Suid-Afrika.

Die skool het reeds in 1923 aan die plaaslike rugbykompetisie begin deelneem. Helpmekaar het reeds drie keer die Adminastrateursbeker (vandag die Beeldtrofee/Virsekerbeker) gewen – 1938, 1962 en 1975. Sedert die Beeldtrofee die amptelike kompetisie borg, het Helpmekaar met groot sukses in die Grootskole-afdeling deelgeneem. In 2017 was al vier van ons spanne in die Virsekerbeker, met 0/15-span en die Eerstepan wat weggestap het met die louere. Die eerstepan het die beker gewen in 2015, 2016 en nou ook 2017. Vanjaar (2018) skuif Helpmekaar na die A-afdeling van die Virsekerbeker en neem dus teen die top Makroskole deel. Ons sien uit na die nuwe uitdaging.

Oor die jare het Helpmekaar reeds 83 Cravenweekspelers opgelewer en 5 spelers is gekies vir die SA-skolespan. In 2017 het Helpmekaar se eerstespankaptein, Mark Snyman, vir die SA-skole, asook die SA 0/18 Sewes-span gespeel. Helpmekaar het twee internasionale spelers opgelewer, naamlik Thys Burger (Springbok 1981-1984) en Gert Peens (Italië 1997-1998). Verskeie van ons oudleerlinge het provinsiale rugby gespeel, waaronder Willie Wepener ( Goue Leeus), Cheese van Tonder ( Transvaal en Vrystaat), Eugene Meyer ( Goue Leeus en Valke), asook Deon Coetzee ( Noord-Transvaal en Transvaal).

Helpmekaar se eerstespan staan bekend as die “Bruinmasjien” en dit bly ‘n voorreg vir enige seun om die bruintrui oor sy kop te trek. Die leuse van ons skool “Komaan” is die perfekte motivering vir ‘n seun om  “Helpie-guts” op die veld te wys. Komaan!