Avontuursport

Avontuursport is ‘n sport waar organiseerders letterlik enigiets in ‘n mens se pad kan gooi!

Spanne bestaan uit drie seuns en een dogter of drie dogters en een seun of twee seuns en twee dogters.  Daar is ‘n Junior afdeling (Graad 8 en 9) en ‘n Senior afdeling (Graad 10 en 11) waarin die leerders deelneem. Jy moet met ‘n kaart en kompas tussen kontrolepunte in die natuur navigeer en die roete kan enige van die volgende aktiwiteite insluit: hardloop, bergfiets, kayak, swem, absailing, roei, vlotbou, spronge van kranse af en nog vele meer!

Dit verg ‘n fikse lyf en ‘n gesonde verstand om kop en koers te hou in uitdagende situasies wat in ‘n resies omskep word. ‘n Resies kan tussen twee ure en ‘n dag neem om te voltooi en tussen 20 en 500 km lank wees (op skoolvlak is die meeste wedlope onder 150 km).

Spanne word gewoonlik ondersteun deur ‘n span ouers wat sorg dat onder andere fietse of kayakke na ‘n versamelarea geneem word, waar spanne kan stop om hul waterbottels vol te maak of seer spiere te vryf.

Avontuursport is soos jou skooldae: jy besef nie werklik hoe lekker dit is, totdat dit verby is nie. Eers nadat die stywe spiere beter voel, die blase oopgegaan het, die laaste doring uitgetrek is en al die modder afgeskrop is, dan begin ‘n mens dit mis! Tog kan en wil jy altyd weer terugkeer na die verslawing van georganiseerde chaos, adrenalien, kompetisie en kameraadskap!

Helpmekaar het laasjaar 9 spanne gehad wat deelgeneem het aan die SA’s. Helpmekaar het beide die Senior en Junior afdeling gewen.  Daar is jaarliks twee kampe waar die leerders Avontuursport-vaardighede aanleer en meer leer oor dié wonderlike sport.

Belangrike datums vir 2018:

  1. Urban Series – 18 Februarie (Helpmekaar Kollege)
  2. Junior kamp – 3-5 April (Klipkraal Heidelberg)
  3. Augustus kamp – 6-8 Augustus (Klipkraal Heidelberg)
  4. Provinsiaal – (Inligting sal deurgegee word)
  5. SA’s – (Inligting sal deurgegee word)

Vir enige navrae:
Dean Alberts
dean.alberts@helpmekaar.co.za
0834102851