Matriekafskeid

Matriekafskeid is dalk ‘n ritueel by ander skole waar meisies toegedraai is in duisende rande en nie noodwendig almal saam afskeid neem van die onderwysers en mekaar nie. By Helpmekaar is dit ‘n funksie waar al die onderwysers en matriekleerders saam in styl afskeid neem. Die Helpie-girls ontluik in Helpie-dames. Natuurlik kan die Helpie-boys nie misgekyk word nie, want op daardie aand is daar altyd ‘n paar paddas wat in prinse verander. Van al die unieke rokke en haarstyle en selfs pakke kan jou oog nie genoeg kry nie. Daar was al ‘n paar dames wat trots is om te erken dat hulle sélf hulle eie rokke ontwerp en gemaak het, tog lyk die rok soos ‘n skepping van ‘n professionele ontwerper.

As deel van die tradisie by Helpmekaar word die afskeid elke jaar by ons skool gehou. Binne is die saal asemrowend mooi. Die houtafwerking skep ‘n outentieke en antieke styl, wat soos ‘n handskoen vir ‘n Helpie-afskeid pas. Ook is elke matriekouer genooi om ‘n skemerkelkie te geniet gedurende die aankoms van al die gaste. Die pragtige stel trappe wat die leerders klim, na die volgende verdieping, is ‘n weerspieëling van die jare se groei en ontwikkeling. Al was daar tye wat die trappe gekraak het, is daar altyd die sagte rooi mat onder jou, en is die breë sterk handreling waaraan jy kan klou, jou alma mater.