
Ons vlagskip word ingewy
Donderdagaand is DI Hub ingewy tydens ‘n baie spesiale plegtigheid. Ons is trots op die vlagskip van ons Dis100-jaar, want dit verteenwoordig voortuitgang, innovasie en ‘n plek vir almal.
Ons was bevoorreg om Dr. Brand Pretorius, mnr. Waldimar Pelser, prof. Derek van der Merwe en me. Rezanne Neethling as eregaste vir die aand te verwelkom.
Insiggewende gesprekke, ‘n uitmuntende uitsig en totale trots was die fondament van hierdie geleentheid.
Ons wens is dat alle Helpies en vriende van Helpmekaar hierdie besonderse plek sal benut en geniet.
Helpies spaar saam!

Geagte ouers/voogde
Julle het die afgelope week inligting ontvang oor die skoolfondsverhoging vir 2021 wat vroeër in die week deur die direksie goedgekeur is. Die verhoging beloop 2.5% teenoor vanjaar se skoolfonds. Dit verteenwoordig die laagste skoolfondsverhoging van die onlangse verlede. Ons het dit reggekry weens ‘n aantal redes: Die direksie se behoefte om die finansiële druk op ouers/voogde na die impak van die Covid-19 pandemie so laag as moontlik te hou; die ouers/voogde van Helpmekaar het onder moeilike omstandighede vanjaar steeds byna sonder uitsondering skoolfondse betaal en die skool dus in staat gestel om amper normaal skoolsake te bestuur; en ‘n konserwatiewe benadering tot skoolinkomstes en uitgawes vir 2021, om almal in staat te stel om bietjie asem te skep na die stampe en stote van 2020.
Ons wens leerders ‘n suksesvolle eksamentyd toe en vir hulle ouers/voogde ‘n rustige en bevredigende paar maande tot jaareinde. Mag die “Dis 100!”-vieringe wat afskop, vir almal betrokke by Helpmekaar vreugde en bemoediging gee.
Beste wense
Derek van der Merwe
Voorsitter: Direksie van Helpmekaar Kollege”
Laudatio 2020 (gr. 8-11)

Dinsdag 27 Oktober om 18:30 te Helpmekaar Kollege.
U word hartlik uitgenooi na die jaarlikse Laudatio, waar ons balkie- en erekleuretoekennings oorhandig aan leerders wat in 2020 op buitekurrikulêre gebied presteer het.
U kind is reeds in kennis gestel van hul betrokkenheid by die Laudatio-funksie. Indien u kind nie die funksie kan bywoon nie, moet die graadvoog in kennis gestel word.
Ons rig asseblief die volgende vriendelike versoeke:
U moet reeds u sitplek teen 18:15 inneem, sodat ons stiptelik om 18:30 kan begin.
Leerders moet om 18:10 aanmeld.
Ons sien uit daarna om u kind te vereer vir insette gelewer en prestasies behaal.
Matrieks begin met eksamen

Baie sterkte aan ons matrieks wat volgende week begin met hul heel laaste skool-eksamen. Mag julle almal met vlieënde vaandels deur die volgende 7 weke seil – ons is alreeds trots op julle!
Let ook asb op ‘n paar veranderinge aan die eksamenrooster van gr. 8-11: November-eksamen
Fiësta vier kultuur
Sondag, 4 Oktober se rustige namiddagklanke is aangevul met die mooiste orkes-en koorklanke. Talentvolle Helpies het met drama, dans en sielvolle musiek die Covid-donkerte verdryf en net weereens bewys dat Helpies op kultuurvlak die nuwe uitdagings tot hulle voordeel benut het. Die koormeester, Ruan Odendaal en orkesmeester, Peter McLea kan hierdie veer met trots in hulle kultuurhoede sit.
Ons het met die kultuurhoogtepunt die weg gebaan vir ‘n mooi Dis 100-jaar wat voorlê.
Ons kan dus opsom: ons kultuurdiere is ‘n spesie met talent, deursettingsvermoë en die mooiste harte. Hulle voed die Helpiekultuur.
Matrieks is nou gegradueerdes

Ons matriekgraduering was weereens ‘n besonderse geleentheid en ons is dankbaar vir 207 geliefde huishoudings wat die laaste 5 jaar die pad saam met ons gestap het. Ons koester élkeen van die matrieks en hul geliefdes en ons salueer julle!
Veels geluk, liewe Helpmekaar!

Ons noem Helpmekaar ons plek, omdat dit iewers is waar elkeen van ons voel dat ons behoort – dis ‘n plek waar ons elkeen gekoester word; dis ‘n plek wat ons verryk; dis óns plek – en daarom hou ons partytjie…want ons wil hierdie besonderse plek vier, ons wil ons dankbaarheid uitbasuin en ons wil ons seënwense uitspreek – soos met die verjaarsdae van almal in ons lewens vir wie ons lief is.
Daarom wil ek vir elkeen van julle vandag sê: WELKOM BY DIE AFSKOP VAN HELPMEKAAR SE 100ste VERJAARSDAG – ons gaan vir die volgende jáár partyjie hou… en JY is genooi – want jou spore lê hier, in ‘n baie besonderse tyd van Helpmekaar se bestaan.
Gun my dan die voorreg om die eerste een te wees om Helpmekaar Kollege geluk te wens:
Mag die Bruin Reus op die Bult se bome altyd groen bly en sy kinders vol lag
Mag hier altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kyk en mekaar ‘n stukkie son gun
Mag almal wie se lewenspad hier kom draai het, voel dat die wêreld ‘n beter plek is omdat hulle in hom leef
Mag mense nog vir honderde jare dankbaar wees vir ONS PLEK
Veels geluk, liewe Helpmekaar, met eenhonderdjaar
Mag die Here jou seën en nog baie eeue spaar…
Klaus König
Die week se kalender
There are no upcoming events to display at this time.