
Kaartjieverkope maak 12:00 oop!

SterKinekor se kaartjieverkope vir ons produksie, Aster, open vandag om 12:00.
U sal wel sien dat daar nou ‘n ekstra vertoning by Cresta Mall is op Woensdag 30 September en dat dit ongelukkig nie meer by Cradle Stone vertoon word nie.
Besprekings vir vertonings wat deur Welpies 2021 bygewoon word, maak eers volgende Vrydag oop.
Leerders bou organe
Die graad 9-leerlinge se les in Lewenswetenskappe, oor die spysverteringskanaal, het die maak van “organe” behels. Elke groep moes kreatiewe maniere vind om ‘n orgaan, met al die strukture daarvan, uit te beeld.
Jonathan trek grootste visse uit

Jonathan Szabo (gr.8), junior lid van Wahoo Skiboat Club, het verlede Saterdag met die hoogste toekennings vir Diepsee Visvang weggestap – hy het selfs die ouer vissermanne in die stof laat byt. Hy het 4 toekennings ontvang, onder andere as Overall Best Angler for 2020. Baie geluk. Mag jy nog baie byte kry…
Akademiese wenk

Moedig u kind aan om nou reeds ou vraestelle van e-skool af te laai en deur te werk, ter voorbereiding vir die Novembereksamen, wat 50% van hul jaarpunt tel.
Skoolaktiwiteite tot Desember

Dit is belangrik dat u vir u vakansiebeplanning in ag sal neem dat alle leerders tot 1 Desember steeds sal besig wees met amptelike skoolaktiwiteite – gr.11 tot 2 Des.
Interne Redenaars

Liewe Ouers
BELANGRIKE INLIGTING RAKENDE DIE INTERNE REDENAARS
Verpligtend (alle graad 8 tot 11`s)
Ons skop termyn drie af met die toespraak as belangrike kommunikatiewe vaardigheid om ons leerders toe te rus om effektief te werk te gaan om standpunte te stel en te beredeneer.
Die toespraak vorm ook deel van die transaksionele skryfwerk en daarom sal die leerders die toesprake gedurende die tweede week van die derde termyn in die klas skryf.
Poging 1 word onder leiding van die taalonderwyser voltooi. Die prosesskryf sal die leerders help om die korrekte formaat self onder die knie te kry. Die taalpersoneel sal die proses lei en monitor. Die eerste poging moet saam met die tweede poging ingegee word om die proses te monitor. Die leerders moet die bronne dus as deel van tuiswerk vir poging 2 by die huis bywerk en die toespraak op kaartjies sit.
NB: HIERDIE PUNT VORM DEEL VAN DIE VAK SE FORMELE ASSESSERING.
Skool heropen
Toespraak as transaksionele skryfwerk word behandel |
24 Augustus 2020 |
Prosesskryf: poging 1 van die toespraak word in die klas geskryf. | 31 Aug – 2 Sep 2020 |
Poging 2 kan by die huis verfyn word as huiswerk | 3-5 September 2020 |
Toespraak se poging 1 en 2 word in die klas ingehandig.
Die leerders begin met die lewer van hul toesprake in die klas |
7-9 September 2020 |
Alle punte in | 10 September 2020 |
Finale graaduitdunne | 14 en 15 September 2020 (top 35) |
Gala-aand | 1 Oktober 2020 |
Gerhard toor met syfers

Baie geluk aan Gerhard le Roux (gr.11) wat deur is na die finale rondte van die 2020 SOUTH AFRICAN MATHEMATICS OLYMPIAD – dit beteken dat hy onder die top 100 presteerders in Afrika is. Welgedaan!
Kultuurverryking

‘n Paar van ons Helpies leef hul liefde vir musiek en dans uit in ‘n video wat onlangs saamgestel is deur Peter McLea. Geniet hierdie kultuur-item, wat die immergewilde Helpmekaar Orkes insluit, saam met Mia Nel as danser en Shani McLea as solis.
Skoolvakansiedag

Donderdag, 24 September is ‘n publieke vakansiedag en daarom is Vrydag, 25 September ‘n skoolvakansiedag. Ons hoop dat u as gesin heerlik sal kan ontspan gedurende hierdie langnaweek.