
Ons bring die Kultuuraand na jou toe...

U word hartlik uitgenooi om vanaand 17:15, in die gemak van u eie huis, in te skakel by die regstreekse uitsending van ons Kultuuraand.
As gevolg van Covid-protokol, mag daar ongelukkig net 100 gaste die vertoning in die saal bywoon en is hierdie 100 sitplekke reeds bespreek.
Om steeds deel te wees van hierdie sielsverkwikkende gebeurtenis, klik gerus op dié skakel: Kultuuraand
Val in by die Helpieketting

Dit is onder ons aandag gebring dat daar ouers is wat in die middag by die hoofhek inry en dan net daar by Nathi se hokkie hul kar laat luier todat hulle kinders arriveer. Daarna maak hulle ‘n U-draai by die koshuis se ingang en ry weer uit. In die proses, hoop die inkomende verkeer op tot onder in Empire en niemand anders kry kans om by die hek in te ry nie. Dit is telkens ook dieselfde ouers wat hulle hieraan skuldig maak…
Ons wil u vriendelik versoek om die groter prentjie in ag te neem en asb in te val by al die ander ouers, wat ook haastig is, deur op te ry tot by die parkeerarea, u kind op te laai en dan weer af te ry en by die onderste hek (langs die rugbyveld) die terrein te verlaat – in die proses leer u ook vir u kind ‘n waardevolle les.
Joshua gaan lyn natmaak by Loskopdam

Baie geluk aan Joshua Toms (gr.11) wat deur NORGALAS (Northern Gauteng Artificial Lure Angling Association) uitgenooi is om aan die Suid-Arikaanse Kuns-aas-hengel-kampioenskappe in Mpumalanga te gaan deelneem volgende maand.
Mag die lyne loop en die visse byt!
Helpmekaar se Roos

“The blooms are large with a deep apricot, cherry brandy colour. The slow opening pointed buds develop into blooms with the complete fullness of English roses; large, healthy foliage plus her fragrance add to this rose’s overall charm”.
Daar is vanaf 18 Maart weer ‘n paar van ons eie Helpmekaar-rose beskikbaar @ R140 per plant.
U kan dit aanlyn op ons Dis100-winkel bestel en dan by die klerewinkel kom afhaal.
Gr.8-kiekies word geneem

Die gr.8’s se individuele foto’s gaan op Maandag, 22 Maart en Woensdag, 24 Maart geneem word, na afloop van hul eksamen tot voor die busse vertrek.
Gr. 8.1 – 8.7: Maandag, 22 Mrt @ 10:30-11:30
Gr. 8.8 – 8.14: Woensdag, 24 Mrt @ 10:30-11:30
Die eksamen wink

Volgende Vrydag is Studiedag! Die eksamen is dus om die draai.
Hier is ‘n paar wenke (aangepas uit ‘n artikel wat op regmerk.co.za verskyn het).
1. Moenie stress nie … Beplan!
Dis belangrik dat ouers EN leerders nie NOU skielik begin paniekerig raak nie. Daar moet werklik ‘n rustige atmosfeer in die huis wees. Die kleintjies moet ook bietjie rustiger speel. Beloon almal met ‘n lekker wegneemete as hulle vir ‘n paar dae mooi saamgewerk het.
Bestudeer die eksamenrooster en werk saam ‘n toepaslike studierooster uit (sien punt 2)
2. Bly by ‘n goeie daaglikse roetine
As kinders ‘n billike roetine volg, raak hulle rustiger en weet wat om te doen. Hier beteken “billik” dat hulle darem ook ‘n sê gehad het in die vasstel daarvan. Dis eintlik een van die truuks van goeie ouerskap (volgens die “kenners”) – die leerder moet saam met jou as ouer besluit hoeveel ure per dag gestudeer sal word. Dan kan daar onderhandel word oor tye en toegewings soos TV-kyk, rustye, ens.
3. Moenie te veel leer nie!
Baie ouers forseer hul kinders om vir ure en ure te sit en leer. Moenie! Dis beter om ‘n paar sessies van 45 minute elk in te pas tussen ander aktiwiteite.
4. Elke kind moet sy/haar privaatheid kan geniet
Moet asb nie elke 20 minute oor Sussa of Boetie se skouer loer en vra: “Hoe gaan dit?” nie. Tieners wil graag alleen gelaat word. Vertrou hom/haar om self te studeer. Maar die deur bly oop!
5. Beheer die foontjie!
‘n Kind moet leer om sy/haar slimfoon vir 45 minute op ‘n slag te kan wegsit. As hy of sy dit op die punt van die bed of op die boekrak of dalk die eetkamertafel kan los vir ‘n uur – dan verdien hy/sy dalk ‘n lekker beker warmsjokolade.
Slaaptyd is NIE foontyd nie. Ons as onnies sien dosyne kinders wat daagliks doodmoeg voor ons sit – en dan is dit soms a.g.v. die feit dat hulle tot 03:00 in die oggend met hul maats gelê en WhatsApp het!
6. BAIE MIN TV tydens eksamens!
Leerders wat werklik hul punte wil opstoot kan ongelukkig nie Netflix (of WAT ook al) kyk nie. Hulle kan die reekse waarvan hulle hou tydens die vakansie opvang. Tydens eksamens mag elke skoolkind EEN program kies en dit tussen twee studie-sessies kyk.
7. Oorfone en … Papier?
Baie tieners verkies dit om met musiek aan te leer.
Hier moet ouers dalk so bietjie compromise. As musiek effens sagter en rustig is, kan dit jou kind help om te konsentreer. Maar as daar kliphard na raserige musiek geluister word, of as daar op die foon gespeel gaan word … NEE-WAT.
Leer beteken SKRYF. Geen kind kan leer deur die boeke soos ‘n Huisgenoot deur te blaai nie. Daar moet baie papier wees en ‘n hele hand vol goeie penne. Daar moet doelgerig gewerk word, opsommings gemaak word, ens…