
Daar is werk, daar is werk...
Dit was ‘n heerlike voorreg om Dinsdagaand ons akademiese presteerders van 2020 te kon vereer by die jaarlikse Akademiese Prysuitdeling – welgedaan aan elkeen van hierdie leerders. Harde werk word altyd beloon.
Toppresteerder in elke graad (2020):
Graad 8: Karo Bekker – 96.29%
Graad 9: Jos Kotzé – 95.45%
Graad 10: Moné de Necker – 93.07%
Graad 11: Suzanne le Roux – 90.85%
Helpie-stoeiers saam in SA-span
Baie geluk aan Jesse van Baalen (gr. 10) en Terence Esterhuizen (gr. 9) wat verkies is tot die SA-stoeispan wat vanaf 4-12 April aan die Afrika-kampioenskappe in Marokko gaan deelneem.
Karli kan karate doen

Karli Holtzhausen (gr. 9) het verlede week eersteplek verower in haar afdeling by die Gautengproewe en is verkies tot die span wat hierdie provinsie eersdaags sal verteenwoordig by die Nasionale Kampioenskappe in Natal.
Kultuuraand is om die draai

Helpmekaar se interne kultuuraand is nou geskeduleer vir Vrydag, 12 Maart 2021 te Helpmekaar Kollege. Verdere detail sal binnekort volg.
Oudisies vind reeds plaas en almal is besig om hulle vere reg te skud vir ‘n mooi somerkonsert.
Helpies spel in Frans

Welgedaan aan Elize Naudé, Liesl Gericke, Nadja Whatney en Ryan Snyman wat deurgedring het na die finale rondte van die spelling bee op 1 Maart om 16:00. On croise les doigts!
Modeparade 2021

Ons is opgewonde om te bevestig dat ons in hierdie uitdagende Covid-19-tye steeds daarna streef om die jaarlikse modeparade in 2021 te laat plaasvind! Natuurlik sal alle maatreëls, soos vasgestel deur wetgewing, ten nouste nagevolg word in ons beplanning. Ons het dit goedgedink om die datum te skuif na 2 + 3 Julie 2021 – die laaste naweek van die reses in die tweede termyn.
Dit is baie belangrik dat alle graad 11’s en 12’s wat wil deel wees van die modeparade, seker sal maak dat hulle wel beskikbaar sal wees vir die voorbereiding, kleedrepetisie en vertonings gedurende die reses (voorbereiding op 28 Junie-30 Junie, volle kleedrepetisie op 1 Julie en vertonings op 2 en 3 Julie).
Kaartjieverkope gaan eers later geskied: hou gerus nader aan die tyd die nuusbriewe dop.
Volgende week se termyntoetse

Ons herinner u net weer daaraan dat daar wel op 2 en 4 Maart termyntoetse geskryf word.
Graad: 2 Mrt |
Vak | | Graad: 4 Mrt |
Vak |
8 | Afrikaans | * | 8 | IGO |
9 | Visuele Kuns | * | 9 | FW |
10 | Drama | * | 10 | BS |
11 | FW | * | 11 | Gesk |
12 | BS | * | 12 | Wisk |
Helpie-handsakprojek

Skenk ‘n handsak wat u nie meer gebruik nie.
Ons doen ‘n beroep op ons Helpie-mammas om hierdie liefdadigheidsprojek te ondersteun, in samewerking met MES (Middestad Evangelisasie en Sendingaksie). Kom ons bederf ‘n dame en laat haar weer spesiaal voel.
Indien jy wil, kan jy ook enige van die volgende items in die handsak plaas:
- Handeroom
- Lip ice
- Sjokolade
- Snesies
- Roll on
- Handsaniteerder
Stuur asb die handsak, leeg óf gevul, na juf. Aletha Jansen van Rensburg of juf. Kathryn Boorman se klasse voor of op 13 Maart. (Jy kan ook ‘n geldelike donasie stuur, waarmee aankope van bogenoemde items gedoen sal word, om in handsakke te plaas.
Bemark jou besigheid

Helpmekaar Geelbladsye word binnekort gepubliseer!
Ons wil graag almal meer bewus maak van die puik dienste en produkte wat beskikbaar is binne ons Oud-Helpie- en ouergemeenskap. Hoekom sal ons nie eerder MEKAAR ondersteun nie?
Dit gaan u slegs R300 per maand kos (eenmalig betaalbaar vir ‘n jaar) om u besigheid op hierdie webblad te laat verskyn.
Hoe benut ek hierdie geleentheid?
1. Betaal R3600 vir 12 maande se lidmaatskap
Helpmekaar Kollege
Bank: ABSA
Rekeningnommer: 406 683 1879
Takkode: 632005
Swift code: ABSAZAJJ
NB: Gebruik as verwysing: Geelbladsye + naam van u besigheid.
2. Stuur ‘n e-pos met die onderstaande inligting na:
- bewys van betaling
- besigheid se naam
- beskrywing van u diens
- webwerf-adres en/of kontaknommer
- fisiese adres
- STUUR OOK ‘N FOTO wat ons as thumbnail vir u besigheid kan gebruik op die webtuiste
Ons gaan live in Maart!
Die link na hierdie webtuiste word dan op ons skool se sosiale media-platforms, ons webwerf, ons nuusbriewe en op ons alumnet-webblad geplaas.
Ons hoop werklik dat hierdie inisiatief vir u baie voete sal verseker.
Vir enige verdere navrae, stuur asb ‘n e-pos na: geelbladsye@helpmekaar.co.za