ATKV – Tienertoneel

Die ATKV-Tienertoneelkompetisie vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar.

Izak de Vries het met drie van Suid-Afrika se voorste toneelspelers, Pedro Kruger, Jacques Bessenger en Johann Nel, gesels om te hoor hoe ATKV-Tienertoneel hulle beïnvloed het.

Pedro Kruger, wat reeds vir meer as 25 jaar lank professioneel toneel speel, is baie opgewonde oor die nuwe generasie akteurs wat hy op die verhoog sien. In ons gesprek verwys hy na die nasionale wenner van die 2013 ATKV-Tienertoneel wat tydens die 20ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn te sien was. Die stuk was Sneeuwitjie en die Sewe Zombies van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. “Dit was uiters goed, en het heeltemal in eie reg tydens die KKNK geskitter.”

Vyftig jaar gelede is die saadjie geplant van dié projek wat nou skoolproduksies op die verhoog sien skouer skuur met professionele vertonings. Zombies was egter nie op die agenda tydens die eerste vergaderings oor die ATKV se toneelbetrokkenheid nie; in 1963, tydens die 125ste herdenking van die Groot Trek, het die ATKV ’n eerste poging aangewend om die toneelkuns te ontwikkel, veral nadat president C.R. Swart die feit betreur het dat dit nie goedgaan in die toneelwêreld nie. In 1964 word die besluit geneem om ’n toneelkompetisie vir skole in te stel en in 1965 het die kompetisie amptelik begin met 22 toneelgroepe wat meeding in die ou Transvaal.

Vyftig jaar later is deelname landswyd en die kompetisie strawwer as ooit van te vore. Pedro Kruger sê die ATKV-Tienertoneel is van ’n “ongelooflike hoë standaard, dit is nie sommer net ’n skoolkonsert nie.” Dit is ook ánders as kompetisies waar jy oornag roem verwerf en dan weer van die toneel verdwyn, sê Kruger, om ’n professionele verhoogpersoon te wees, is ’n langtermynbesluit en belegging en tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie leer ’n akteur die dissipline van groepwerk wat later belangrik is vir ’n loopbaan.

Bessenger stem saam: “Dit bied ’n platform vir jong akteurs om te verstaan hoe werk repetisies, die tegniese aspekte van teater, die skep van karakters, ensemblespel, wát goeie teater is, en dissipline …”

Dit is presies hoe Kruger voel: “Mense werk hard, hoor. En dit is nie net die kinders wat deelneem nie, dit is ook die jong regisseurs. Dis onnies wat dalk nie die eerste keer wen nie, maar wat leer by dié wat beter is. Dán, gee hulle so twee tot ses jaar, en nóú begin hulle werk doen van standaard.”

Johann Nel was een van daardie onnies. Hy is vyf keer as beste regisseur aangewys vir die werk wat hy by die Hoërskool Gimnasium in die Paarl gedoen het. Sedert hy in 1996 ’n professionele akteur geword het, was hy gereeld ’n beoordelaar van die ATKV-Tienertoneelkompetisie.

Die lys van gróót name wat hulle talente geslyp het op die ATKV-Tienertoneelverhoog, is baie lank. Hier is maar ’n paar: André van der Merwe, Anel Alexander, Anneke Weideman, Anton Treurnich, Burgerd Botha, Carina Nel, Cintaine Schutte, Christo Davids, De Klerk Oelofse, Francois Toerien, Herman Lensing, Jak de Priester, John-Henry Opperman, Lindie van Eden, Ludwig Binge, Melinda Bam, Neels Clasen, Neels van Jaarsveld, Patrick Shabangu, Piet Matipa, Roeline Daneel, Quintin Wils, Vilje Maritz …

Die ATKV se droom vir dié kompetisie is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en –kyk by hoërskoolleerders te kweek sodat leerders hul kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel.

Helpmekaar Kollege was bevoorreg om deur te dring na die landswyefinaal in:

2014 : Rooi (4de plek nasionaal)

2016: Dierepubliek

Dit wat was…

2017: Die Mensfabriek – waartydens Milandie Viljoen benoem word as Mees Belowende Speler.

Toegang is gratis by die streeksfeeste. Beleef dié smeltkroes van talent. Die Saterdagaand van elke streeksfees vind die streeksfeesfinaal plaas met die top vier stukke van die streeksfees wat weer speel.

  • 3 Augustus by die UJ Ouditorium (Helpmekaar )
  • 6 Augustus by die Roodepoort teater (Helpmekaar)

Die finaal vind hierdie jaar plaas by Roodepoort teater in Oktober.