komaan  
    helpmekaar
Welkom by HELPMEKAAR.
Welkom / Die HELPMEKAAR Naam
 
 


 
 

DIE HELPMEKAAR NAAM

Op 22 Junie 1921 notuleer die Voorlopige Beheerliggaam, dat dit tyd geword het om op ‘n naam vir die skool te besluit. Die aangeleentheid het allerweë groot belangstelling uitgelok. Die keuse het op die naam Helpmekaar geval. Die Departement van Onderwys het nie met hierdie naam saamgestem nie. Die Voorlopige Beheerliggaam was egter nie van plan om die stryd gewonne te gee nie. In ‘n skrywe aan die Departement is dit duidelik gestel dat hierdie naam nie, soos die Departement wou voorgee, uit politieke oorweging gekies is nie.

"Helpmekaar" het gedui op die Helpmekaar Beweging uit die rebellietyd wat fondse byeengebring het om die boetes wat die Rebelle opgelê was, te betaal. Die naam het dus geen skakeling met die landswye beweging uit daardie tyd met dieselfde naam nie. Die gevolg was dat die skool die naam Helpmekaar behou het.



DIE SKOOL- LEUSE

‘KOMAAN’ is die titel van 'n gedig deur Jan F. E. Cilliers, uit die tydperk toe die Afrikaner ‘n opdraande stryd gevoer het om sy regmatige plek in die land te herwin. Daar is op die leuse besluit om die groot volksdigter te vereer en om ‘n suiwer Afrikaanse gees te kweek deur die opsetlike verwydering van ‘n Latynse leuse.


DIE SKOOL- KLEURE

Wat die kleure van die skool betref, is daar besluit om die leerlinge ‘n aandeel aan die keuse te gee deur ‘n kompetisie uit te skryf. Die keurkomitee het Ruth Davis se voorstel van donker-sjokoladebruin en ougoud die aanneemlikste gevind.


DIE SKOOLWAPEN

Die basis van die skoolwapen is ‘n kruis wat in ‘n vierkant pas. Dit is skuins gedraai in die posisie van die letter X. Bo in die linkerhoek staan die leuse KOMAAN. Onder hierdie leuse is daar vier sonstrale met die simboliese betekenis van alles wat die son in die lewe beteken. Daaronder, skuins van links-onder na regs-bo, staan die afkorting van die skool se naam. Onderaan verskyn vyf goudstampers, ontleen aan die Johannesburgse stadswapen. Dit dui nie slegs op die begrip Goudstad nie, maar is ook simbolies dat skoolgaan maar een van die meulens is waardeur die mens gaan.

Die wapen is ontwerp deur ‘n matriekleerling van 1925, A.J. Lessing.


DIE HOEKSTEEN

Die skool se hoeksteen is op 19 September 1925 gelê deur sy Generaal J.B.M.Hertzog.


REPLIKA VAN DIE VOORTREKKERMONUMENT

Die gedenksteen by die monument is gelê deur Ds. W.M. Nicol. Daar word na hom verwys as die vader van die skool.


DIE SKOOLGEBOU

Die Helpmekaar Hoërskool kry sy eie gebou in 1925 en word so die eerste Afrikaanse skool in Johannesburg.

Soos die meeste regeringsgeboue van daardie tyd, word die skool gebou op die styl van die goewermentsgeboue in Engeland en sy kolonies. Die hoofargitek was J.S.Cleland. Hy ontwerp en teken die planne in die ‘tradisionele’ styl, wat ‘n mengsel is van Neo-Klassisme en Moderne styl. Die gebou is met rooibruin stene en ‘n klipafwerking gebou. Bokant die indrukwekkende hoofingang se rooi teëldak pryk ‘n wit koepel met ‘n rooi dak. Helpmekaar is ‘n belangrike landmerk in Johannesburg en die skool tussen die Jakarandabome en die rye Palmbome vorm ‘n indrukwekkende toneel. Die skoolgebou van Helpmekaar Kollege is in die tagtigerjare tot ‘n Nasionale Monument verklaar deur die Stigting Simon van der Stel.


SKOOLHOOFDE

Mnr. J.G.Brink - 1923
Mnr. J.P.Lehman - 1948
Mnr. E. D. Botes - 1950
Mnr. A.J.Koen - 1955
Mnr. J.J.van der Walt - 1957
Mnr. B.J.de Lange - 1969
Mnr. G.P. Prinsloo - 1985
Mnr. A. L. Eysele - 1994
Mnr. H. Venter - 1998
Mnr. K. König - 2005


 

 
Home | Website terms of use | Privacy Policy | Last Updated: 16 Aug 2011