Welwillendheidsweek 11 – 15 September
Ons Welwillendheidsweek word gebruik om die nood in 'n gemeenskap onder die leerders en hul ouers se aandag te bring. Daar word 'n spesiale poging aangewend om gedurende hierdie week soveel as moontlik in te samel vir die betrokke groep sodat ons, al is dit net 'n eenmalige poging, vir hulle kan help in hul nood.
Hierdie jaar reik ons weereens uit na die Sunriseprojek.
Sunrise Kleuterskool is meer as twee jaar gelede in die Nandini-plakkerskamp begin deur 'n persoon in die plakkerskamp, wat 'n passie het vir kinderversorging. In die plakkerskamp is baie hulpbehoewende kinders o.a. heelwat wat kom uit huise waar net 'n ouer broer of suster is wat hoof is van die gesin. Die kleuterskool het so uitgebrei dat daar vandag 40 kinders versorg word deur 2 dames van die gemeenskap, asook 'n kok wat vir hulle 'n gesonde bord kos bedien. Mense uit hulle eie gemeenskap help met 'n groentetuin en wanneer nodig, ook by die kleuterskool. In die laaste gedeelte van 2005 is 'n tweede kleuterskool in Soul City-plakkerskamp begin. Wanneer dié een goed gevestig is, word beoog om 'n derde een op te rig in 'n ander plakkerskamp. "Sunrise" is nou die oorkoepelende naam van die projek.
Die onderwysers ontvang gereeld opleiding deur ervare en bekwame kleuterskoolonderwysers. Daar is dieetkundiges wat 'n ogie hou dat die maaltye gebalanseerd is en oorhoofs is 'n maatskaplike werkster in 'n toesighoudende hoedanigheid om sake te bestuur. Daar is ook ondersteuningsdienste. Daar word omgesien na die geestelike versorging van die kinders en personeel en wat die fisiese sy betref, is daar 'n arbeidsterapeut wat help.
Baie belangrik is dat die kleuterskool binne die plaaslike gemeenskap aanvaar moet word. Daarvoor is dit baie belangrik dat dit 'n gemeenskapsopheffingsprojek moet wees. (Die maatskaplike werkster spesialiseer in hierdie rigting). Die persone in beheer van die skool moet dus uit die gemeenskap kom en vir die gemeenskap werk.
Die besteding van die fondse word deur 'n ouditeur nagegaan. Die projek funksioneer onder die vaandel van die N.G. Welsyn.
Om hierdie projek suksesvol te bedryf beteken dat hulle baie afhanklik is van skenkings en bydraes van elders. Dit wat nie in die kleuterskool gebruik word nie, word aan die wyer gemeenskap geskenk deur die plaaslike pastoor of geestelike werker.
Ons skool wil baie graag 'n bydrae lewer om hulle by te staan met skenkings van kos, klere, bruikbare goedere, speelgoed en geld wat ons gaan insamel gedurende ons Welwillendheidsweek.
Personeel betrokke is Mevv. Marnel Agenbag en Maryna Fryer.