|
Groenklubtoer 2008 te Knysna (Meghan Beukes)
Ek is verstom dat daardie vliegtuig Woensdag dit reg gekry het om op te styg, met al daardie statiese elektrisiteit van opgewondenheid in die lug! Almal was hiperaktief en vol afwagting vir die aktiwiteite wat op ons wag…
Sodra ons in Knysna aangekom het, het ons skaars tyd gehad om uit te pak en geen tyd verspil om ons toer so gou moontlik te begin, deur die Knysna koppe te besoek, nie. Daar het ons almal eers gou middagete verslind en toe ‘n staproete langs die see en deur een van die koppe geniet. Dit is net hier waar al die grappe begin het…
Almal het daardie volgende dag (met of sonder hoogte vrees) die ‘Canopy-tours' met oorgawe en vasbeslotenheid aangedurf, waar ons almal op die ‘no-scream-no-lunch' slide met ‘n Tarzan-skree deur juffrou Bosch vir ons braafheid beloon was! Dit alleen was die moeite werd.
Volgende op ons lys was roei. Ten spyte van die koue het almal daarna uitgesien tot Mnr. Nolte ons almal om die beurt in die vriesende water om getiep het. Die brawe Gr 11's het selfs kans gesien om van die brug af in die rivier te spring, terwyl die Gr 12's soos ou tannies van die oewer af gebrom het. Ek moet darm by sê, die Gr 11's was nie te gelukkig na die koue sprongetjie nie en sommige van hulle het te laat besef dat dit ‘n hele entjie is om weer terug na die oewer te swem.
Walvis besigtiging was die laaste aktiwiteit. Dit was werklik suksesvol en asemrowend, totdat sommige van ons se mage die stryd met die dyning van die see verloor het en walvisse van ons minste bekommernisse was. Ons het almal uitgesien na vaste moeder aarde weer onder ons voete!
So tussen al die aktiwiteite was daar ‘n oester toer en meeste van ons het dit vir die eerste keer (met afkeur) probeer en later was dit sushi aan die beurt. Nutteloos om te sê: gesigte (van walging of plesier) was om die vreemde smake getrek.
Sondag- die dag van ons vertrek was onwelkom en die tyd het ons van jaloesie kom haal voor ons nog “Knysna' kon sê!
Daar was baie gelag, getoer, geroei, ge-‘fly' en nóg meer! Maar pogings om hierdie toer te beskryf is nutteloos, want slegs woorde op papier kan h erdie ondervinding nie vasvat nie.
Dankie aan Mnr. Nolte en Jufr. Bosch vir ‘n ‘great' toer en dat hul, hul vakansie- en gesinstyd vir ons opgeoffer het.
|