| |
Saterdag se Beeldtrofee finale vir Grootskole sal plaasvind by Hoërskool Ben Vorster op Tzaneen. Dit nadat albei skole die unieke prestasie behaal het om al hulle wedstryde in die semi-finale te wen.
Helpmekaar het op sy tuisveld die begeesterde span van Hoërskool Standerton in ‘n spannende wedstryd met 31-23 geklop. Helpmekaar het halftyd met 19-9 voorgeloop, maar net na rustyd het Standerton ‘n drie in die hoek gedruk om die telling na 19-16 te laat krimp. Albei spanne het nog ‘n drie gaan druk en 5 minute voor die einde was die telling 24-23 vir Helpmekaar. ‘n Drie in die laaste minuut deur Helpmekaar se kookwater flank en kaptein, Juan Bester, het egter die wedstryd beklink vir Helpmekaar. Dit was beslis een van die hardste en opwindenste wedstryde wat lanklaas op Helpmekaar se veld gesien is.
Die 0/16 semi-finaal was nog meer spannend en het die westryd teen Hoërskool Standerton na speeltyd gelykop geeïndig met 15-15. Helpmekaar het egter die eerste drie gedruk en dus op ‘n tegniese punt deurgedring na die finale. Helpmekaar se puik verdediging in die laaste paar minute was ‘n bewys van die span se groot karakter.
In die eerste wedstryd van die dag het Helpmekaar se 0/14-span die span van HTS Ligbron met 37-6 geklop. Helpmekaar het aanvanklik gesukkel in die eerste helfte, maar in die tweede helfte die krane oopgedraai en 7 drieë ingeryg.
Die 0/15 span moes teen Hoërskool Pietersburg op hulle tuisveld gaan speel. Die span het egter die struikelblok oorkom en uiteindelik maklik met 33-10 gewen. Hulle dring dus deur na finale vir die tweede jaar in ‘n ry. Die span was laasjaar die Beeldtrofee kampioene.
Alle paaie lei dus na Tzaneen! Dit is Helpmekaar teen Ben Vorster in elke finaal van die Grootskole-afdeling.
 |
|
|