Dit is ‘n sport waar organiseerders letterlik enigiets in ‘n mens se pad kan gooi!
Spanne bestaan uit drie ouens en ‘n girl.
Jy moet met kaart en kompas tussen kontrolepunte in die natuur navigeer en die roete kan enige van die volgende aktiwiteite insluit: hardloop, bergfiets, kayak, swem, absailing, roei, vlotbou , spronge van kranse af, en nog meer!
Dit verg ‘n fikse lyf en ‘n gesonde verstand om kop en koers te hou in uitdagende situasies wat in ‘n resies geskep kan word. ‘n Resies kan tussen twee ure en ‘n week neem om te voltooi en tussen 20 en 500 km lank wees (op skoolvlak is die meeste wedlope onder 150 km) .
Spanne word gewoonlik ondersteun deur ‘n span ouers wat sorg dat bv. fietse of kayakke na ‘n versamelarea geneem word, waar spanne kan stop om hul waterbottels vol te maak of seer spiere te vryf.
Avontuursport is soos jou skooldae: jy besef nie werklik hoe lekker dit is, totdat dit verby is nie. Eers nadat die stywe spiere beter voel, die blase oopgegaan het, die laaste doring uitgetrek is en al die modder afgeskrop is, dan begin ‘n mens dit mis! Tog kan en wil jy altyd weer terugkeer na die verslawing van georganiseerde chaos, adrenalien, kompetisie en kameraadskap!
Mense, julle verstaan nie wat spanwerk en opwinding is nie, of dit vyf of vyftien ure van bloedsweet is – hart , siel en span werk saam!
Die Helpieketting breek nie! Rerig!
|